IN DIE NUUS

 

Bybelgenootskap van Suid-Afrika Stel Nuwe Uitvoerende Hoof Aan

CEO LINKED IN 2

Bellville, Kaapstad. Ds Rodney van Wyk is vandeesweek as die nuwe Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika aangestel. Hy sal vir die volgende twee jaar die posisie beklee.

Ds Rodney van Wyk is op 16 Maart, tydens die Algemene Jaarvergadering by die Bybelhuis in Bellville, eenparig aangewys. Ds Van Wyk beklee sedert 1 November 2022 die posisie van Tussentydse Uitvoerende Hoof ná die bedanking van ds Dirk Gevers wat die rol van Sekretaris Generaal by die Wêreldbond van Bybelgenootskappe aanvaar het.

Ds Van Wyk is 'n geordende dominee van die Gereformeerde Kerke in Suider-Afrika, en het vir 11 jaar op die Bybelgenootskap se Raad van Direkteure gedien voor sy aanstelling as Tussentydse Uitvoerende Hoof. Hy is in 2012 as Voorsitter verkies en het vir ses jaar in hierdie posisie gedien. Na afloop van sy termyn as voorsitter het hy vir nog twee jaar op die raad gedien.

Die Raad is oortuig dat ds Van Wyk se ondervinding en deeglike kennis van die Bybelgenootskap en sy missie die organisasie vir die volgende twee jaar goed sal dien.

“Ek glo dat ds Van Wyk die geskikte kandidaat vir hierdie posisie is weens sy oop-deur beleid en wonderlike menseverhoudinge,” het dr Paul du Plessis, die Bybelgenootskap se raadsvoorsitter gesê.

“Hy het ’n integrale rol gespeel tydens die herstruktureringsproses en is dus die één wat ons kan help om die momentum te behou en te verseker dat korttermyn strategieë deurgevoer word. Hy is bekwaam en toegerus om ons vir die volgende twee jaar vorentoe te neem,” het hy gesê.

“Ek dink dat al die gawes waarmee die Here ds Van Wyk geseën het, is presies wat die Bybelgenootskap nou benodig.”

Ds Van Wyk se droom is dat die Bybelgenootskap, onder sy leierskap, instrumenteel sal wees om Suid-Afrikaners te laat terugkeer na die Woord van God.

“Ons is dankbaar dat ons die Bybel in al die amptelike tale van ons land beskikbaar kan maak. Ons is tans besig met nuwe Bybelvertalings in nog vier tale om die Woord van God vir mense in hul moedertaal beskikbaar te maak." het ds Van Wyk gesê.

“Ons glo die Bybel is die antwoord vir al die probleme wat ons land en die wêreld tans in die gesig staar. Dit is dus absoluut krities dat elke persoon ’n Bybel moet hê sodat hulle God met hulle kan hoor praat – in hulle hartstaal,” het hy bygevoeg.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika bestaan reeds vir meer as 200 jaar en dien Suid-Afrikaners deur die vertaling, produksie en verspreiding van bekostigbare Bybels in verskeie tale en formate.