DIE BYBEL

 

 

IsiZulu

IsiZulu is die mees wydgesproke taal in Suid-Afrika, met meer as 11 500 000 sprekers landwyd. Die grootste konsentrasie van isiZulu sprekers woon in KwaZulu-Natal.

Sendelinge van die 'American Board of Commissioners for Foreign Missions' (ABCFM) het in 1835 in Port Natal aangekom. Hierdie groep het hulself onderskei as die eerste vertalers van die isiZulu Bybel. Die eerste volledige Bybelboek om in isiZulu vertaal te word is die Evangelie volgens Matteus, vertaal deur George Champion en hersien deur Newton Adams.

Die eerste volledige isiZulu Bybel wat die vertalingswerk van die ABCFM-sendelinge geïnkorporeer het, is in 1883 deur die Amerikaanse Bybelgenootskap gepubliseer.

In 1959 het 'n nuwe vertaling van die isiZulu Bybel verskyn en geniet nog steeds die voorkeur van isiZulu sprekers.

'n Bronteksgeoriënteerde vertaling in goeie idiomatiese isiZulu is in 2020 gepubliseer.

 

IsiXhosa

Meer as 8 miljoen Suid-Afrikaners praat isiXhosa. Die vroegste Bybelvertalings in isiXhosa was hoofsaaklik die werk van sendelinge soos William Shaw en William Boyce van die Wesleyaanse Sendinggenootskap (WMS).

Hulle het eers die Evangelie van Lukas, wat in 1833 verskyn het, vertaal. Danksy die samewerking tussen sendelinge van die Wesleyaanse, Glasgow en Berlynse Sendinggenootskappe is die Nuwe Testament in 1846 gepubliseer. Die eerste volledige Bybel wat in isiXhosa vertaal is, is tussen 1857 en 1859 in dele by die sendingdrukkery op Mount Coke gedruk. Die eerste Bybel wat in een volume gepubliseer is, was 'n hersiening van die 1859-vertaling en het in 1864 verskyn. Die hersiening is hoofsaaklik deur Rev JW Appleyard gedoen. Verskeie Bybelhersienings het gevolg met die laaste omvattende een in 1975.

'n Volledige nuwe Bybelvertaling in isiXhosa is in 1996 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.

 

 

Tshivenda

Tshivenda word deur meer as 1,2 miljoen mense in Suid-Afrika gepraat sowel as in Zimbabwe.

Die pioniervertaler van die Bybel in Tshivenda was sendeling en taalkundige, Dr PE Schwellnus van die Berlynse Sendinggenootskap.

Teen 1920 was die vier Evangelies en Handelinge alreeds vertaal en versprei. Die Nuwe Testament het drie jaar later gevolg. Die eerste volledige Tshivenda Bybel het in 1936 verskyn en die nuutste vertaling is in 1998 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika uitgegee.

 

Setswana

Setswana, wat in Botswana gepraat word, is ook die moedertaal van sowat 4 miljoen mense wat in Suid-Afrika woon.

Robert Moffat was die pioniervertaler van die Bybel in Setswana. Hy het die taak begin net nadat hy in 1817 in Kuruman aangekom het. Setswana is die eerste Suid-Afrikaanse taal om 'n volledige Bybel te ontvang.

In 1830 is die Evangelie van Lukas vir die eerste keer in Setswana vertaal. Die vertaling van die Nuwe Testament het in 1840 gevolg. Dit is ook deur Robert Moffat vertaal en onder sy toesig, tydens 'n besoek aan Engeland, gedruk. Die eerste volledige Setswana Bybel het in 1857 verskyn.

Soos Moffat die Bybelgedeeltes voltooi het, is dit op 'n sendingdrukpers in Kuruman gedruk. In 1872 is hierdie vertaling in een volume gepubliseer. In 1908 verskyn 'n hersiening van die Bybel wat hoofsaaklik deur Alfred Wookey gedoen is.

Die mees onlangse vertaling wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer word, dateer terug na 1970.