• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Hoor die stem van God in 'n stil wêreld

blog 4

Om die bybelse boodskap van hoop en vergifnis te begryp, is vir baie van ons moeilik. Dit is selfs moeiliker vir diegene wat nie kan hoor nie. Om die evangelie aan Dowes te verduidelik is inderdaad 'n enorme uitdaging. Iemand wat goed hiermee vertroud is, is dr Rocco Hough wat reeds vir die afgelope 30 jaar in hierdie gemeenskap werksaam is. Hy is ook nóú betrokke by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se vertaling van die heel eerste Engelse Bybel vir Dowes.

Tydens sy teologiese opleiding aan die Universiteit Stellenbosch het Rocco 'n pos by die De la Bat NG Kerk in Bellville, Kaapstad aanvaar. "Op 'n manier het die Here net vir my gesê, ek wil jou hier gebruik. Gelukkig was dit 'n baie duidelike roeping want daar was moeilike tye gewees, maar deur al die jare het ek net geweet, die Here wil my hier gebruik," verduidelik Rocco.

Sy werk onder die Dowes het beteken dat hy al sy preke en Bybelstudies so moes vertaal dat sy gemeentelede dit kon verstaan.

"Baie vroeg in my bediening het Dowes my gevra om hulle te help om die Bybel beter te verstaan en om asseblief 'n Bybel vir Dowes te skryf. Ek het gedink dit is onmoontlik.

"Dowes praat oor die algemeen in Gebaretaal, hulle verstaan dit baie beter. Geskrewe taal is hulle tweede taal, en hulle leer dit nie so goed aan nie. Om hulle te help om die Bybel te verstaan, moet jy hulle eers help om al die verskillende begrippe, al die woorde, al die idiome, en al die taalstrukture te verstaan. Dit is 'n skrikwekkende taak."

Die Bybelgenootskap sal net 'n Bybel vertaal as die kerke daarom vra. Na die nodige versoek en raadpleging het die projek om 'n Bybel vir Dowes in Afrikaans te vertaal die groen lig gekry. Die span wat saam met Rocco gewerk het, het onder andere brontaalkenners (Hebreeus, Aramees en Grieks, Ou- en Nuwe-Testamentici), 'n taalkundige en 'n aantal dowe persone ingesluit. Uiteindelik is Die Bybel vir Dowes in 2007 gepubliseer.

Sommer gou is daar uit alle oorde gevra dat daar ook 'n Engelse Bybel vir Dowes vertaal moet word. 'n Vertaalspan, weer eens onder beskerming van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 2011 met hierdie taak begin. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel vir Dowes was moeilik, maar dit het gou geblyk dat die Engelse vertaling selfs moeiliker sou wees.

"Ons is nou in ons vyfde jaar. In die vertaalproses is daar vyf of ses fases. Ons het die brontaalkenners wat seker maak dat die teks korrek volgens die Grieks en die Hebreeuse tekste vertaal word. Dan is daar drie groepe dowe lesers wat die vertalings lees en elke woord en sin merk wat hulle nie verstaan nie. Maar ons moet ook nagaan en kyk of hulle die woorde verstaan, wat hulle dínk hulle verstaan. As daar, byvoorbeeld, in die teks staan. 'Jacob walks to the well' dan beduie hulle miskien die gebaar vir 'Ok' vir 'all is well' wat natuurlik verkeerd is. In so 'n geval sal ons dan van 'n voetnoot (op die spesifieke blad) en illustrasie gebruik maak om die begrip 'well', naamlik 'n gat in die grond met water in, aan hulle te verduidelik. In die Afrikaanse vertaling het ons van 18 000 voetnote gebruik gemaak en in die Engels kan ons nie meer as 60 000 gebruik nie.

Ons het ook 'n Engelse taalkundige wat ons help om in goeie Engels, maar tog in doofgerigte Engels te vertaal. Die finale fase is waar die vertaling na meer dowe lesersgroepe gestuur word. Die reaksie sover is baie bemoedigend.

"Om Dowes te help om die evangelie te verstaan, of om dit te glo, is werklik baie moeilik. Aan die een kant vind hulle dit moeilik om die begrippe soos byvoorbeeld verlossing, uitverkiesing en genade werklik te verstaan, maar aan die ander kant wanneer dit kom by geloof, tel hul gestremdheid eintlik in hul guns. 'n Mens moet soos 'n kind glo, en in daardie opsig is dit eintlik vir Dowes makliker om te glo as vir horendes. Horendes worstel soms met bybelse begrippe want hulle dink dit kan nie waar wees nie en daar is soms baie struikelblokke in hulle pad. Hulle sê maklik: 'Ja, maar wag so bietjie. Wat is die fine print?' Verduidelik jy egter vir 'n Dowe hierdie begrippe sal jy dikwels vind dat hulle sê: 'Wonderlik, as Jesus my liefhet, en Hy het my sondes vergewe, prys sy Naam'."

Besoek www.englishbibleforthedeaf.co.za en vind meer uit oor die Engelse Bybel vir Dowes-projek.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou