IN DIE NUUS

 

Afrikaanse Bybelvertaling ingesluit by Vlam vir Afrikaans-projek

news 2019 6

Die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans is Sondag, 25 Augustus as deel van die Vlam vir Afrikaans-projek by die Voortrekkermonument in Pretoria, vereer.

Tydens die funksie wat by die Erfenissentrum op die Voortrekkermonument se Erfenisterrein gehou is, het dr Paul du Plessis, namens die direksie van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 'n spesiale gedenkplaat onthul. Die gedenkplaat is ter viering van die eerste Bybel in Afrikaans wat in Augustus 1933 die lig gesien het.

Vlam vir Afrikaans is ‘n projek wat deur die ATKV-tak Centurion begin is. Die simboliese vlam wat deel uitmaak van 'n uitstallling in die Erfenissentrum, is op 8 Mei 2016 amptelik deur die wêreldbekende Suid-Afrikaanse operasangeres, Mimi Coertse aangesteek. Dit was ter viering van die amptelike erkenning van Afrikaans op 8 Mei 1925. Sedertdien is daar ook twee verdere gedenkplate aangebring – een ter herdenking van die 80ste bestaan van Afrikaanse Radio en een ter herdenking van die 41ste bestaan van Afrikaans op televisie. Die gedenkplate is albei op 29 Oktober deur onderskeidelik die radio-omroeper, Magdaleen Krüger, en televisieaanbieder, Heinrich Marnitz, onthul.

“Ons het gevoel ons moet hierdie projek voltooi met die herdenking van die eerste Bybel in Afrikaans. Ons is so bly oor almal wat vandag by hierdie baie mooi byeenkoms was waar ons kon sê, ‘Dankie Here, dat ons ook die Bybel in ons eie taal kan lees,’” het Sakkie Kotze, voorsitter van die ATKV-tak Centurion verduidelik.

Tydens die plegtigheid het prof Jaco Beyers, professor in die Departement Bybelkunde en Religieuse Studies aan die Universiteit van Pretoria, die gehoor meer vertel omtrent die omstandige in Suid-Afrika in 1933 asook watter proses gevolg is om die eerste Bybel in Afrikaans te vertaal.

Hy het verwys na die feit dat Suid-Afrika in daardie jaar nog 'n Unie was en dat die trauma en verlies van die Eerste Wêreldoorlog wat van 1914 tot 1918 gewoed het, nog vlak in Suid-Afrikaners se geheue en psige gelê het. Op politieke vlak was daar 'n stryd tussen die Eerste Minister, generaal Barry Hertzog, en generaal Jan Smuts oor wie Suid-Afrika as bondgenote moet ondersteun, Engeland of Duitsland. Dit is ook die tyd van die grootste droogte ooit in Suid-Afrika, met talle boere wat hul plase moes verkoop en stad toe moes trek op soek na werk. Hierdie verstedeliking het weer tot grootskaalse armoede en sosio-ekonomiese probleme onder Afrikaners gelei.

“Die uiteinde van hierdie langdroewige storie is dat 1933 'n periode van wanhoop, 'n periode van moedeloosheid, en in baie opsigte, 'n laagtepunt vir Afrikaners in ons samelewing was. Is dit nie wonderlik nie dat juis in daardie tyd van wanhopigheid en moedeloosheid vir Afrikanermense in Suid-Afrika, die Bybel in ons eie taal beskikbaar raak. Dat die Bybel juis in sulke moeilike omstandighede 'n boodskap van hoop en troos bring vir mense wat smag na hoop en smag na 'n boodskap van beterskap,” het prof Beyers gesê.

Klik hier om na prof Beyers se volledige praatjie te luister. Vir meer inligting oor die Vlam vir Afrikaans-projek besoek: www.vlamvirafrikaans.org.za.

e-Saaier nuusbrief