Vastrap oor Afrika vir Bybels

news 2019 6

Die twee susters, Lynsey en Suzann Knoetze, was vasberade om “hulself te vind” op 'n onlangse vakansie maar ontdek toe opnuut die Bybel. Dit het hulle lewens verander en nou wil hulle help om die lewens van mense regoor Afrika ook te verander.

“Terwyl ons die Bybel bestudeer het, het iets net in my kop geskuif. Ek het besef dit is wat in my lewe ontbreek het. Ek het hierdie oorweldigende gevoel gehad dat almal hiervan moet weet. Die Woord moes net eenvoudig uit!” onthou Lynsey opgewonde.

'n Uitmergelende reis ten bate van Bybels is hieruit gebore. Verlede Saterdag (13 Julie) het hierdie avontuur 'n werklikheid geword toe hulle van L’Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, vertrek het op die eerste van hul fietsrytog se 14 bene.

Met die eerste paar dae agter die rug, is daar nie te veel om oor te kla nie. “Ons moes ‘n paar tawwe heuwels oorsteek en daar was 'n lang dag of twee, maar dit is slegs die begin en ons voel goed,” het Lynsey Woensdag gerapporteer.

Die roete strek al langs die aanskoulike Suid-Afrikaanse kuslyn, voordat hulle binneland toe draai en koers kies na Botswana. Daarna word daar al langs die skoonryke Okavango Delta getrap. Dan volg Zambië en dan selfs verder verby die suidelik punt van die Malawimeer. In November kom die trapgedeelte van die reis tot 'n einde by die voet van die grote Kilimandjaro, die hoogste bergpiek in Afrika. Dan is daar die uitdaging om die berg te klim. In totaal sal 9 000 km aflê word ten bate van Bybelverspreiding.

Die Knoetzen susters word deur 'n ondersteuningspan en –voertuig vergesel en sal ook langs die pad Bybels versprei. Al die fondse wat met die groot traptog ingesamel word, is ter ondersteuning van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, asook die Bybelgenootskappe van Botswana, Zambië, Malawi en Tanzanië.

Besoek www.crossafrica.org, vir meer inligting en om op die hoogte te bly van hul vordering.