IN DIE NUUS

 

Hardloop vir 'n doel, hardloop vir Bybels

news 8

Die Comrades Marathon wat eerskomende Sondag plaasvind, is omtrent 'n belewenis. Hierdie uitmergelende wedloop wat uithouvermoë tot die uiterste beproef, kan op 'n manier met die Christenskap-wedloop vergelyk word. Daar is menige op- en afdraande, vreugde en pyn, onsekerheid en dan beloning by die eindstreep. Dit is nie vir wankelmoediges nie.

Mense wat hierdie wilde perd opsaal om die 87 km van Durban na Pietermaritzburg te hardloop moet 'n baie duidelike rede hê hoekom hulle dit doen, want dit moet kragtig genoeg wees om hulle al die pad tot by die eindstreep te dra.

Die Comrades-legende, Louis Massyn (67), weet beslis hoekom hy sy liggaam deur hierdie beproewing sit. Dit is vir baie meer as net 'n medalje; vir die afgelope 14 jaar hardloop hy vir Bybels. Deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika te ondersteun, help Louis en baie ander atlete soos hy, so dat mense wat dit nie kan bekostig nie ‘n Bybel van hul eie kan besit.

“Ek het in 1973 my eerste Comrades gehardloop en dit het alles begin met 'n preek. In die Angelikaanse Kerk in Odendaalsrus het die Biskop van Bloemfontein in sy preek die Bybelteks met die Comrades Marathon vergelyk. Daar het ek op 22-jarige ouderdom besluit die volgende Comrades gaan ek hardloop,” vertel Louis wat hoop om Sondag se 47ste agtereenvolgende Comrades te voltooi.

“Ek hardloop al vir die afgelope 14 jaar vir Bybels en dit is wonderlik om te weet dat ek op die manier 'n bydrae kan lewer sodat mense die Bybel kan ontvang en hulle ook die Woord van God in hul huise kan verwelkom.”

Die Bybelgenootskap het 'n stalletjie by die Comrades Expo wat vanaf Donderdag 6 Junie plaasvind. Maak gerus 'n draai en ontmoet die span. Daar sal ook ‘n verskeidenheid Bybels te koop wees. As jy ook vir Bybels wil hardloop, kan jy aanlyn aansluit en deel word van ons Hardloop vir Bybels-span.

Word ‘n saaier van hoop!

e-Saaier nuusbrief